Skuldgevoelens dam die Lewende Water op

Ons almal wil graag perfek wees vir Jesus en ons probeer so hard om ons liefde aan God te bewys dat ons uiters teleurgesteld word as ons vaal deur ‘n onbenullige oortreding.

Ons voel dan vreeslik skuldig daaroor en sukkel om weer tot op dieselfde punt in ons geestelike lewens te kom waar ons voor die oortreding was. Satan gebruik hierdie skuldgevoelens om die Lewende Water wat uit ons lewens uitvloei en ander mense voed, op te dam.

Baie van julle  gaan nou met groot vraagtekens rondloop. “Lewende Water wat uit my uitloop?” Presies! Het julle nog nooit opgelet dat as jy in die geselskap van ander mense is, hulle net nie genoeg van jou kan kry nie? Gesprekke wat begin word, hou net nie op nie! Dit is die Lewende Water, liewe lesers! Mense voel dit aan en hulle kan nie genoeg gedrink kry nie! Hulle verstaan dit nie altyd nie, maar hulle weet dat jy anders as ander mense is en hulle geniet jou teenwoordigheid ten volle!

Hierdie laat my dink aan die verse van Galasiërs 5:16 en 17 [16]  Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; [17]  want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.”

Wanneer ons ‘n oortreding begaan en ons voel geknak en skuldig daaroor, dan maak dit ‘n bondel van skuld omdat ons voel dat ons liefde vir Jesus nie sterk genoeg was om ons deur die versoeking te vat nie. Hierdie bondel maak dan ‘n dam net soos bewers bome afknaag om damme in riviere te bou. Hierdie dam, hou dan die Lewende Water wat uit ons vloei terug.

Liewe leser, Jesus wil hê ons moet weet dat ons werklik vergewe is en Hy wil hê ons moet daardie vergifnis aanvaar, ongeag wat jy gedoen het of nog gaan doen. Die probleem is dat baie van ons weet dat ons vergewe is, maar ons vra onsself die vraag af hoe ons vergewe kan wees as ons nie sterk genoeg is om deur satan se lokvalle te sien nie. Hoe maak ‘n mens as jy gereeld sondig uit swakheid? Hoe kom jy oor herhalende sonde? Baie van ons is al siek en sat omdat ons dieselfde sondes oor en oor doen.

U moet egter onthou dat ons as Kinders van God vergewe is van alle oortredinge wat ons gedoen het en ook nog gaan doen. As jy jouself nie vergewe nie, gaan jy wees soos ‘n hond aan ‘n ketting, gebind en sonder doel. Die Lewende Water wat uit ons vloei en deur ander mense aangevoel word, word dan opgehoop deur die splinters van ons sonde. Laat dit gaan. Moenie aanhou om jouself te skop en jammer te kry nie.

Kyk asseblief vir my na die verse hieronder.

“Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.” (Hosea 14:4)

“En mag onse Here Jesus Christus self en onse God en Vader, wat ons liefgehad het en ‘n ewige troos en goeie hoop in genade gegee het, julle harte vertroos en julle versterk in alle goeie woorde en werke!” (2 Tessalonisense 2:16-17)

“Die HERE het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.” (Jeremia 31:3)

“Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.” (Efesiërs 2:4-7)

As hierdie verse jou nie oortuig dat Jesus jou werklik liefhet, ongeag van jou foute nie, dan sal niks anders nie. Moenie bekommerd wees oor jou neiging tot sonde nie.

Nou net voor julle almal vir my baie kwaad word; bedoel ek nie dat julle die feit dat julle sondig moet ignoreer nie. Wat ek probeer oordra is dat ons nie meer moet fokus op die sonde gedeelte as wat ons moet fokus op Sy liefde vir ons nie. Ons moet onthou dat Jesus se krag geopenbaar word in ons swakheid! Jesus sê ook nie dat ons moet ophou om vergifnis te vra vir ons oortredinge nie. Hou net op om jouself so te veroordeel!

Sê vir Jesus dat jy jammer is en vra Hom vir die krag om aan te kan beweeg. Fokus dan op die vergifnis en Jesus se vermoë om u te help eerder as op jouself en die oortreding wat jy begaan het te fokus. Jy sal verbaas wees hoe gou satan jou uitlos as jy dit doen! As jy die demoon in die lug laat hang sonder satisfaksie, dan sal hy na ander satisfaksie gaan soek! Satan het vir Jesus ook versoek en toe hy sien dat hy geen satisfaksie kry nie, het hy soos in Lukas 4:13 staan ‘n tyd lank van hom gewyk. Dieselfde sal met u gebeur as u satan tee staan! Probeer dit en kyk of dit werk!

As jy dus voel dat die skuldgevoelens die oorhand van jou kry, verander die onderwerp. Onmiddellik! Laat daardie demoon in die lug hang sonder satisfaksie. Die oomblik wat u horings sluit met daardie skuldgevoel, dan skuif u fokus van Jesus na die sonde en satan weet dit! Hou u oë op Jesus en bevestig die feit dat Hy die goeie wat Hy begin het sal klaarmaak in jou. Die oorwinning SAL joune wees! Fokus op Jesus en nie op die sonde nie!

Dit grief Jesus vreeslik as ons sondig, maar dis veel erger as ons onsself verwyt oor ons oortredinge in die proses. Jesus wil baie graag hê dat ons perfek moet wees, maar Hy weet ook dat die proses nie oornag sal plaasvind nie. Onthou dat Jesus ons swakhede gebruik om Sy Naam te verheerlik. Dis die skuldgevoel wat maak dat die Lewende Water in ‘n dun straaltjie loop in plaas van in oorvloed uitstroom. Nou vra ek julle: wil jy ‘n fontein wees wat oorvloedig borrel vir Jesus of wil jy ‘n dun stroompie wees waar mens ure moet staan en wag dat jou koppie vol loop?

Liewe lesers, wil u meer van die Gees in u lewens voel? Kruisig dan meer van die vlees, maar nie op u tyd nie! Wag tot Jesus aan u openbaar dat die tyd nou reg is om dit te doen. As u Jesus se instruksies volg, dan sal u baie gou die kruin bereik en nie jare in die woestyn spandeer soos dit met baie al gebeur het nie.

Soos Pauls vir Jakobus geskryf het [2]  Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, [3]  omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. [4]  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.” (Jakobus 1:2-4)

Wil u graag vir Jesus ongelooflik baie gelukkig maak? Gooi dan hierdie harnas van skuld van u af. Bid vir vergifnis, vra Hom om hulp en loop dan weg van u oortredinge af! Laat daardie demone in die lug hang sonder satisfaksie. Prys die wonderlike Naam van Jesus!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën.

(Visited 409 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .