Vergewe, Vergeet en Maak Vry

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Dis vir Jesus baie belangrik dat ons die om ons moet vergewe, want dis deel van Jesus se gebed; die Onse Vader in Mattheus 6:12.

Hoe kan die HERE ons oortredinge vergewe as ons die om ons nie kan vergewe nie? Ja, ek weet dis moeilik en glo my ek het al elke verskoning onder die son gehoor. Hierdie is nou weer waar naaste liefde inkom, want ons almal is anders en ons almal het ‘n ander manier van dinge doen. Dis die natuur van die liggaam van die HERE. Die feit dat iemand ‘n probleem op ‘n ander manier hanteer as jy beteken nie dat daardie persoon dom is nie. Ondersoek geduld, begrip en naaste liefde en jy sal mense hulle oortredinge makliker kan vergewe.

Ek weet maar net te goed hoe moeilik dit is om te vergeet van die slegte dinge wat met jou gebeur het. Met my het daar net soveel slegte dinge gebeur. Ek was al verraai deur iemand wat ek vertrou het. Dit het baie seer gemaak, maar dink julle dat as ons die HERE verraai dit vir Jesus enigsins makliker is om te aanvaar? Hoeveel keer het ons nie al vir Jesus verraai nie? Ons belowe so maklik om ons lewens om te draai en sonde vaarwel toe te roep en dan doen ons dit maar net weer. Ja, ons is mense en daarom swak, maar Jesus vergewe en vergeet van ons oortredinge elke slag as ons berou daaroor toon! Waarom doen jy dan nie net so nie?

Hoe baie het ek dit nie al gehoor nie? “Ek sal vergewe, maar nooit ooit vergeet nie!” Hierdie is ‘n paradoks, want jy kan nie iemand vergewe en dan sy oortreding nie vergeet nie. As jy nie kan vergeet van die slegte wat gebeur het nie, dan het jy nie werklik vergewe nie en hou jy dit wat gebeur het nog steeds teen daardie persoon!

Liewe lesers, julle moet verstaan dat die HERE binnekort Sy Bruid gaan kom haal. Hy gaan die kleed van die Ewige Lewe om jou skouers hang en jy gaan Jesus se metgesel word! Hoe moet God die Vader vir jou daardie eer gee as die Bruid van die Seun van die Mens as jy jou naaste nie kan vergewe nie? Begin julle nou verstaan waarom vergewe, vergeet en vrymaak so ‘n belangrike deel van Christendom is?

Binnekort gaan ons in die Hemel wees! Ek weet dit, want die HERE het Sy Woord met my bevestig! Ons gaan ‘n nuwe begin in die Hemel maak, vry van alles wat ons op die Aarde gebind het. Daarom, vergewe die wat teen jou oortree of oortree het. Maak hulle vry deur hulle oor te gee in die Hande van die HERE en moet jou nie verder meer daaroor kwel nie!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 848 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , .