Ons wat in hierdie tyd leef, leef sekerlik in die mees interessantste tyd, want ons sien letterlik hoe die Woord in vervulling kom!
As ek julle moet vra hoeveel van julle wil hê die wegraping moet plaasvind, sal ek seker honderde indien nie duisende hande gelyk sien opgaan, maar kon ons lees eers wat in Jakobus 5:7-9 staan “[7] Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het. [8] Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. [9] Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur.”
Meer duideliker kan ek dit nie stel nie! Wees geduldig, maar wees ook gereed. Beoefen geduld, verdra mekaar se oortredinge en moenie oordeel nie, want Jesus se koms is voor die deur! Die wag is amper verby!
Onthou dat die Bybel baie presies is wanneer daar gesê word dat niemand weet wanneer die dag gaan kom nie. Jesus self sê in Mattheus 24:36 die volgende: “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” Jesus gaan voort om ons ook te waarsku in Lukas 21:34-35 om ook nie te gerus te word nie: “[34] MAAR pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. [35] Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.” Vir menigte gaan dit soos ‘n groot skrik kom wanneer hulle skielik gaan besef dat hulle nooit gereed was nie. U kan sorg dan dat u gereed is, liewe leser.
Ons gaan miskien nie presies weet wanneer Jesus gaan kom om die wat gereed is te kom haal nie, maar Jesus sê vir ons dat ons al weet wanneer die tyd naby is. Ons lees daarvan in Mattheus 24:32-33 “[32] Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. [33] So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur.” In Mattheus 24:7 gee Jesus verder vir ons ‘n hele reeks van gebeure wat gaan plaasvind in die laaste van dae net voor die wegraping en hulle is: Oorloë, gerugte van oorloë, hongersnode, pessiektes en aardbewings. Al hierdie tekens is klaar daar! Mens kan dit nie meer mis nie, tensy jy blind is en nie wil sien nie!
Ons weet dat ons wat gered is en gereed is nie deur die verdrukking sal gaan nie, want die Bybel sê in Romeine 8:1 so “DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie…” en ook in 1 Tessalonisense 5:9 “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus…”. Met soos in die tyd van Noag en Lot, sal die Here eers die gelowiges uit die rampgebied verwyder voor hy sy toorn oor hierdie wêreld uitstort. Hierdie is onweerlegbare bewyse dat die wegraping voor die verdrukking gaan plaasvind.
Die wegraping gaan skielik en onverwags kom. Jesus sê soos ‘n groot skrik! Moenie dat die probleme van die lewe julle onderkry en julle in die geloof afkoel nie. Waak en bid gedurig deur dat julle waardig gevind mag word om voor Jesus te staan! Maar bowenal, wag met geduld op die koms van die HEER!
Prys die Naam van Jesus!